Act of Settlement 1701

’n Duplikaat van die Act of Settlement wat aan keurvorstin Sophia van Hannover gestuur is.

Die Act of Settlement, of Opvolgingswet, is ’n wet van die parlement van Engeland van 1701 wat die troonopvolging van Engeland en Ierland beperk tot slegs Protestante. Dit het tot gevolg gehad dat afstammelinge van koning Karel I (buiten sy Protestantse kleindogter prinses Anna, later koningin Anna) uitgesluit is van die troonopvolging en dat die eerste aanspraakmaker die keurvorstin Sophia van Hannover was; sy was ’n kleindogter van Jakobus VI en I. Ná haar sou die troon slegs na haar nie-Katolieke erfgename gaan.

Die wet is genoodsaak deurdat nóg Willem III en Maria II nóg Maria se suster, die toekomstige koningin Anna, enige oorlewende kinders gehad het en al die lede van die Huis van Stuart Katoliek was. Die lyn van Sophia van Hannover was die mees junior lyn van die Stuarts, maar het bestaan uit toegewyde Protestante. Sophia is op 8 Junie 1714 oorlede, kort voor koningin Anna se dood op 1 Augustus 1714. Met Anna se afsterwe het Sophia se seun koning George I geword. Dit was die begin van die Hannoverdinastie in Brittanje.

Die wet het ’n groot rol gespeel in die vorming van die Koninkryk van Groot-Brittanje. Engeland en Skotland het sedert 1603 ’n monarg gedeel, maar is apart regeer. Die Skotse parlement was teensinniger as die Engelse parlement om afstand te doen van die Huis van Stuart, waarvan die lede Skotse monarge was lank voordat hulle monarge van Engeland geword het. Engeland se druk op Skotland om die Act of Settlement te aanvaar was een van die faktore wat gelei het tot die parlementêre vereniging van die twee lande in 1707.

Kragtens die Act of Settlement sou enigiemand wat ’n Rooms-Katoliek word of met een trou, sy aanspraak op die troon verloor. Dit het ook perke geplaas op die rol van buitelanders in die Britse regering en die mag van die monarg met betrekking tot die parlement van Engeland. Sommige van die bepalings is deur daaropvolgende wetgewing verander.

Saam met die Handves van Regte van 1689 is die Act of Settlement vandag een van die belangrikste grondwetlike bepalings van troonopvolging – nie net van Brittanje nie, maar ook van die ander Statebondslande waarvan die Britse monarg die staathoof is.[1] Die Act of Settlement kan net deur ’n land se parlement verander word, en dan net met die toestemming van al die ander lande, want dit raak die opvolging van die gesamentlike troon.[2]

Ná die Perth-ooreenkoms van 2011 het wetgewing wat die wet verander op 26 Maart 2015 in al die Statebondslande met koningin Elizabeth as staatshoof van krag geword. Daarvolgens is uitsluiting van die troon weens ’n huwelik met ’n Rooms-Katoliek verwyder. Ander bepalings van die wet geld steeds.

  1. Toporoski, Richard (1998). "The Invisible Crown". Monarchy Canada. Toronto: Monarchist League of Canada (Somer 1998). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2008. Besoek op 16 Mei 2009.
  2. The Statute of Westminster 1931

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search